| Die
skryf van resente geskiedenis, al is dit ook oor 'n saak soos
Boeremusiek, is altyd 'n moeilike taak en soms is dit 'n gevaarlike
onderneming. Dit is haas onmoontlik om alle bronne te raadpleeg en
te bestudeer en daar is altyd die risiko dat onverwagte
gesaghebbendes in staat sal wees om wat geskryf is, te weerspreek of
verdag te maak.
Al
is die Boeremusiekgilde slegs 'n paar jaar oud, moes die skrywer van
hierdie werk steeds genoemde risiko's die hoof bied. Dit het hy
gedoen met toegewyde navorsing van 'n gehalte wat die bewondering en
respek van almal betrokke by die Boeremusiekgilde sal wegdra.
So
ken ons egter die skrywer van dié werk — 'n man wat alles feil
het vir feitelikheid, maar ook vir ons eie musiek.
Ek
het die tydperk waarvan dr. Leon Ferreira skryf, deurleef en was van
die eerste dag af nou verbind met die Boeremusiekgilde. Ek het nie
net al die leidende figure geken nie, maar ek kon die oorgrote
meerderheid my intieme vriende noem. Dit is vandag nog die geval en
ek hoop dat dit ook vir die toekoms sal geld. Ek kan dus getuig van
die integriteit, kundigheid en toewyding wat hierdie werk moontlik
gemaak het.
Mag
elke huidige en toekomstige lid van die Boeremusiekgilde hierdie
werk op sy rak bewaar. Mag hy gereeld daarna kyk en daarin lees dat
almal wat betrokke was en is, net één doel voor oë gehad het en
altyd mag hê, en dit is die bevordering van ons geliefde skat —
Boeremusiek. |
|
Ollie
Viljoen (links), ere-president, en Gerhardt Olckers, nasionale
voorsitter , in 'n gesellige luim saam by Rooihuiskraal,
Verwoerdburg, in Oktober 1994. |
| Beste
Boeremusiekvriend, daar
is oor 'n tydperk van baie jare reeds heelwat gespekuleer oor die
ontstaan, evolusie, vorm en inslag van Boeremusiek op ons
Suid-Afrikaners se lewe. Wat soos ‘n paal bo water
staan, is dat dit deel is van ons kultuur. Hierdie musikale erfenis,
hetsy in die tradisionele- of moderne styl, is so deel van ons
kontemporêre lewe as wat die nuwe Suid-Afrika is.
Indien
ons sou terugkyk oor die afgelope vyf jaar, waartydens die
Boeremusiekgilde daadwerklik betrokke was by die bevordering en
uitdra van Boeremusiek, dan wonder mens onwillekeurig oor die
element wat die meeste bygedra het tot die groei van die Gilde se
ledetal.
Was
dit die harde werk van die Gilde se funksionarisse, of die
toegewydheid van die musikante, of die getroue ondersteuning van die
lede, of die veranderinge in ons land?
My
beskeie opinie is dat dit 'n samevoeging van bogenoemde elemente en
nog vele ander faktore is, wat veroorsaak dat Boeremusiek nooit sal
uitsterf of 'n minderwaardige plek sal inneem in ons kultuur nie.Aan
al hierdie aktiewe bydraers, oud en jonk, oor die hele land en oor
die landsgrense heen, as aanhangers van elke vorm van Boeremusiek,
ongeag herkoms, bring ek hulde en hartlike groete.
Hierdie
feesblad is vir julle. Hierdie herdenking is die teboekstelling van
julle getrouheid en toegewydheid.
Indien
jy nie spesifiek by die naam genoem word of jou foto dalk nie
verskyn waar dit hoort nie, wees gerus en tevrede dat jou besondere
bydrae nie minderwaardig geag word of verlore gegaan het nie. Jy het
daadwerklik bygedra tot Boeremusiek, ter wille van Boeremusiek.
My
opregte dank en eer gaan aan ons Hemelse Vader vir die talente,
geleenthede en genade om dit wat vir ons van waarde is, te kan
uitbou en bevorder. Die vraag kom ter sprake of ons dit wat reeds
tot stand gekom het, rustig agteroor kan sit en geniet? Geniet ja,
seer sekerlik, maar steeds met die wete dat selfvoldoening ons
grootste vyand is. Ons moet nog meer doen. Ons moet ons getrouheid
nog meer bewys en steeds poog om nie vir die persoon nie, maar vir
die saak te werk. Boeremusiek moet groter wees as ons eie aspirasies
of voorkeure. Ons moet woeker met ons geleenthede sodat ons 'n
erfenis kan nalaat wat lewend, polsend, groeiend en aktueel bly.
All
Boeremusic-lovers must participate in our endeavours. We must ensure
that we remain abreast of changes in music. Specifically changes
that affect our children and their musical preferences. Our planning
must be for the future, with modern principles as the basis of our
actions. Positive marketing, directed at everybody, young and old,
must be our commitment.
Ons
gaan 'n tydperk tegemoet waartydens ons getoets gaan word. Wie gaan
die toets deurstaan?
Ek
bedank graag die opstellers van hierdie feesblad asook al die
bydraers. In die besonder wil ek dr. Leon Ferreira bedank vir sy
harde werk en toewyding. As professionele historikus stel hy hierdie
feesblad saam met sy liefde vir Boeremusiek as enigste vergoeding.
Ek groet alle Boeremusiekliefhebbers met groot agting en liefde, ter
wille van Boeremusiek. |